KARINA VAN ZYL

Default profile image
----------

26272245

Welcome to my blog!

INLEIDING: KARINA VAN KURUMAN

13 Aug 2021, 21:59 Publicly Viewable

Goeienaand! Ek het uiteindelik die blog knoppie gevind. So hier gaan ons nou…

Ek is Karina van Zyl. ‘n Werkende student soos baie van my mede-afstandsleer kollegas hulself ook noem. Ek het groot geword op ‘n klein dorp in die Noord-Kaap genaamd Kuruman. Glo my die alliterasie gaan my nie verby nie.

Na matriek het ek in my broer en suster se voetspore gevolg en begin studeer by die NWU Potchefstroom-kampus. ‘n Paar jare en grade later bevind ek my in nog ‘n klein dorpie, ‘n klipgooi weg van Kuruman, genaamd Kathu.

Om eerlik te wees het ek nooit gedink ek sal ooit terug kom na die omgewing toe nie, maar hey, hier is ek nou. Ek, my langtermyn kêrel van ses jaar (hopelik verloofde in die nabye toekoms) en ons twee katte, Heidi en Dexter in ‘n myndorp wat rooigrond om elke hoek en draai het. Ek is tans besig om by ‘n nasorg te werk en hard te leer.

Ek moet sê ek geniet die nasorg baie. Die kinders fassineer my. Hulle interessante stories, vermoë om alles in ‘n leergeleentheid te omskep en net die lewe te geniet is wat my aan die gang hou. Daar is nooit ‘n vervelige dag nie. My gunsteling deel is om te sien hoe die kinders groei. Van ‘n graad 1 wat nie “a” van “b” kan onderskei nie, tot ‘n graad 1 wat skielik blad na blad in hul leesboekies kan lees. Dit gee my moed. Ek het besluit om Grondslagfase te studeer, omdat ek deel wil wees van die proses om die belangrikste ontwikkelingsjare van kinders te vorm. Ek wil verstaan hoe kinders dink en hoe hulle beter leer.

My groot droom is om eendag ‘n nie-winsgewende organisasie te skep vir die minderbevoorregte skole in ons land. Ek wil spesifiek daarna kyk om onderwysers wat by kleuterskole werk op te lei, sodat hulle beter opvoeding aan die kinders in die omgewing kan voorsien.

Ek sien beslis uit na hierdie module, omdat musiek nog altyd ‘n groot deel van my lewe is. Ons gesin is baie musikaal en ek waardeer die waarde wat musiek tot my lewe voeg. Ek kan nie wag om die kleinspan daardie selfde waarde van musiek te wys nie en boonop hul daardeur te leer nie.

Tot my volgende plasing.

Soet wees!

Karina van Kuruman / Kathu