ENCHANTÉ DU PREEZ

Default profile image
ENCHANTÉ DU PREEZ

Blog #3.4

7 Nov 2021, 19:58 Publicly Viewable
  • Wat is die algemene oorsake van rinitis en rinoree?

Gewoonlik die gevolg van allergieë, verkoue, chemiese of geneesmiddelskade, koue lug of fisiese skade.

  • Watter geneesmiddelgroepe kan by die behandeling van rinoree gebruik word?  Noem voorbeelde by elke groep.

Antihistaminika en antimuskariniese middels

Eerste generasie        

  • broomfeniramien, chloorfeniramien, difenhidramien en prometasien

Tweede generasie

  • loratadien en setirisien

  • Hoe verskil die dekongestante onderling ten opsigte van werkingsmeganisme en werkingsduur?  Hoe word hulle tipies toegedien?

Die a-agoniste word baie algemeen gebruik in die topikale doseervorme (neussproeie, druppels en jellies) en inhalasie van vlugtige verbindings om dekongestie van die neusslymvlies teweeg te bring.  Die neussproeie versprei die geneesmiddel die beste en word verkies.  Die druppels loop maklik deur tot in die farinks, vanwaar dit in die SVK beland en meer sistemiese newe-effekte kan veroorsaak, maar word nogtans soms verkies by kinders met kleiner neusgange.

Dit is verder belangrik om elke gebruiker van topikale preparate te waarsku teen die gevaar van privinisme met oorgebruik. Dit is hoofsaaklik vir korttermynbehandeling bedoel.  Persone met privinisme behoort behandeling te staak en tydelik lokale kortikoïedterapie te ontvang.  Soms ervaar persone wat die dekongestante chronies gebruik het dat hulle ’n toe neus ontwikkel wanneer hulle die terapie staak.  Vir hierdie persone kan eers die een neusgang “gespeen” word, sodat daar darem nog een oop neusgang is.  Wanneer die “gespeende” neusgang hertstel het, kan die tweede een ook “gepeen” word.  Daar is ook orale preparate beskikbaar, maar hierdie doseervorm gee aanleiding tot meer newe-effekte en het 'n stadiger aanvang van werking.

Die volgende algemene riglyne kan by die keuse van 'n dekongestant gevolg word:

Absolute kontraïndikasies sluit in iskemiese hartsiektes en erge hipertensie.

Relatiewe kontraïndikasies sluit in gloukoom (midriase met verminderde vogdreinering), prostaathipertrofie (kontraksie van blaassfinkter), hipertiroïedisme (hipertensie) en diabetes mellitus (glukoneogenese en glukogenolise).  Indien hierdie middels wel gebruik word, word die topikale middels verkies, of die kortwerkende middels waarvan enige newe-effekte gouer sal termineer. Van die kortwerkende middels moet die imidasoliene egter met groot omsigtigheid gebruik word.

Geneesmiddelinteraksies sluit in dat persone wat MAO-I gebruik die dekongestante versigtig moet gebruik, omdat dit ’n hipertensiewe krisis kan ontlok.  So ook kan hipertensie en aritmieë ontlok word in kombinasie met trisikliese antidepressante.  Saam met nie-selektiewe b-blokkers is daar ook die potensiaal van hipertensie, omdat die vasodilaterende b-adrenoseptore nou geblokkeer word, terwyl die vasokonstriktoriese a-adrenoseptore gestimuleer word. Persone wat geneig is tot terugslagrinitis kan die langwerkende dekongestante gebruik, omdat dit minder geneig is om terugslagrinitis veroorsaak.

Swanger en lakterende vroue moet slegs indien absoluut nodig van die dekongestante gebruik maak.  Topikale oksimetasolien is relatief veilig wanneer daar nie enige ander kontraïndikasie is nie.

Babas onder ses maande haal hoofsaaklik net deur die neus asem, sodat terugslagrinitis tot apnee kan lei.  Die dekongestante moet dus liefs vermy word.

Atlete moet versigtig wees vir die verbode stimulante (bv. efedrien, fenielefrien en propielheksidrien).

  • Wat is rhinitis medicamentosa?  Hoe word dit behandel?

Rhinitis medicamentosa (privinisme) en terugslagrinitis kan met oordosering met lokale preparate ontstaan.  Privinisme is ’n toestand wat ontstaan na chroniese behandeling met dekongestante, waar die permanente vasokonstriksie met gebrekkige lokale bloedvoorsiening aanleiding gee tot skade van die neusslymvliese met permanente inflammasie en swelling, asook ’n afregulering van die a-adrenergiese reseptore op die bloedvate, sodat dit onresponsief raak teenoor die a-agoniste.  Tagifilakse (l-noradrenalien-stooruitputting) kan deur die indirekwerkende middels ontlok word.

Behandeling : Kortisoon neussproei bv. Beklometasoon

  • Hoe verskil die eerste en tweede generasie antihistamiene ten opsigte van die werkings­meganismes waarvolgens rinitis en rinoree verlig word?  Wat is die voordele van die tweede generasie antihistamiene?  Waarom behoort hulle nie gebruik te word om verkouerinitis te verlig nie?

Die eerste generasie antihistaminika is multipotente kompeterende antagoniste en blokkeer ook muskariniese reseptore.  Antimuskariniese middels verminder die sekresies van die hoër en die laer lugweë, sodat dit dikwels by verkouepreparate ingesluit word om rinoree op te klaar.  Hulle kan egter sedasie veroorsaak en dus konsentrasievermoë negatief beïnvloed.

Die tweede generasie antihistamiene blokkeer nie muskariniese reseptore nie en is bruikbaar by lang- of korttermynbehandeling van allergiese rinitis.  Aangesien histamien geen rol by verkouerinitisnie speel nie, maar wel bradikinien, help hierdie middels nie om verkouerinitis op te klaar nie.

Omstredenheid bestaan egter oor die gebruik van die antihistamiene by die behandeling van rinoree by verkoue.  Bradikinien, en nie histamien nie, is hier die mediator vir inflammasie.  Daar is dus geen rasionaal agter die aanwending van die antihistaminiese eienskappe van die antihistamiene nie.  Dit is egter so dat die ou generasie antihistamiene (multipotente antagoniste) vanweë hul antimuskariniese eienskappe by verkouerinoree gebruik word om alle waterige sekresies op te droog.  Daar is egter 'n gevoel onder sekere kenners dat die nadele (newe-effekte en ernstige toksisiteit onder veral kinders) die voordele oorskei.  By die behandeling van allergiese rinitis is die bruikbaarheid van die antihistamiene egter duidelik.

  • Wanneer is kortikosteroïede, anti-allergiese middels, mesna en normale soutoplossing bruikbaar en hoe word dit toegedien?

Kortikosteroïede

Topikale kortikosteroïede (neussproeie) vir kliniese gebruik teen allergiese rinitis sluit in: beklometasoon, budesonied, flunisolied en flutikasoon. Sistemies - betametasoon, prednisoon .Klinies - Kortikosteroïed-neussproeie word sistemies swak geabsorbeer, maar kan soms met groot doserings sistemiese newe-effekte veroorsaak.  Persone met 'n infeksie of verlaagde weerstand moet dit versigtig gebruik.

Anti-allergiese middels

Bv. Natriumchromoglikaat en nedochromielnatrium. Klinies - Die gebruik van natriumchromoglikaat as 'n neussproei is baie effektief by die profilaktiese behandeling van allergiese rinitis, maar die gereelde dosering maak dit minder gewild.

Mesna

Topikale mesna (neursproei) is veral sinvol om te gebruik wanneer die nasale sekrete taai is.  Die mesna help dan om die slym meer vloeibaar te maak.

Normale soutoplossing

Normale soutoplossing (salien) is as neusdruppel baie veilig en effektief.  Dit bevogtig die droë, geïnflammeerde neusslymvliese soos tydens verkoue, droë weer, allergieë (hooikoors), neusbloeding, oorgebruik van dekongestante en ander irritasies.