KOLS (Kroniese obstruktiewe lugweg siektes) is ‘n term wat gebruik word om verskeie toestande van die lugweë, waaronder brongiale asma, kroniese brongitis en emfiseem val, te beskryf wat asemhaling en gaswisseling vir pasiënte moeilik maak en dus kan lei tot verswakte lewenskwaliteit of selfs dood.
Kroniese brongitis: Etiologie is onbekend, maar kan moontlik as gevolg van irritante soos sigaretrook, gasse, stof, ens. wees. Dit is ‘n kroniese inflammatoriese toestand wat lei tot ‘n verhoogde mukussekresie, verlaagde mukosiliêre opruiming en kroniese hoes as gevolg van die opbou van mukus, asook strukturele verandering in die wande van die brongi en brongiole en gereelde bakteriële infeksies.
Emfiseem: Etiologie sluit rook en ander irritante in, wat onomkeerbare strukturele skade (verwyding en verlies van elastisiteit) aan die wande van die respiratoriese brongi en brongiole veroorsaak. Dus vloei lug moeilik in en uit die longe en word in die longe vasgevang. Bloedvloei in die kapillêre vate is ook minder, wat gasuitruiling nog verder belemmer.
Terapie sluit in lewenstyl verandering (ophou rook, oefening, ens.), voorkoming van bakteriële infeksies (immunisering en breë spektrum antibiotika), medikasie vir brongodilatasie en inhalasie terapie (suurstof) in.
Ipratropium is ‘n anticholinergiese middel en ‘n M3 antagonis in die lugweë.
Teofillien rem fosfodiesterase dus verhoog cAMP vlakke en veroorsaak gladdespierverslapping en brongodilatasie. Dit versterk ook kontraksie van diafragma skeletspiere, wat asemhaling makliker maak en die effekte van KOLS teenwerk.
Verswakte asemhaling lei tot ‘n afname in bloed- suurstof vlakke of hipoksie. Tydens suurstof inhalasie word meer suurstof op ‘n slag in geasem, dus is meer suurstof beskikbaar vir gaswisseling in die longe.