Fluvoksamien verlaag die uitdrukking van inflammatoriese gene in endoteel selle en makrofae1. Dit bind sigma-1 reseptore in immuunselle en verlaag so die produksie van inflammatoriese sitokiene2. Hierdie is alles maniere hoe fluvoksamien as anti-inflammatories kan optree in infeksies soos COVID-19, maar dit is nog nie nastenby genoeg om die gebruik te rasionaliseer nie.
In ‘n plasebo-beheerde ewekansige studie het mense wat fluvoksamien neem nie hospitalisasie benodig nie terwyl 6.9% van die plasebo groep gehospitaliseer is. Hierdie studie is egter in ‘n klein groep gedoen en die assessering het vanaf ‘n afstand plaasgevind. 20% van die groep het ook nie die studie voltooi nie3.
‘n Ander studie wat nie-ewekansig en ook nie plasebo-beheerd is nie, het getoon dat 60% van mense wat gekies het om nie fluvoksamien te neem nie, simptome van angs, moegheid en konsentrasieprobleme het. Na twee weke is geen van die fluvoksamien pasiënte opgeneem nie en 12.5% van die wat nie die behandeling neem nie, opgeneem. Die pasiënte wat fluvoksamien neem het geen newe effekte gerapporteer nie. Hierdie studie is ongelukkig in ‘n klein groep uitgevoer en is nie ewekansig nie4.
Met die behandeling van psigiatriese toestande in volwassenes word talle newe effekte waargeneem as gevolg van die effekte van die groter hoeveelhede serotonien soos massatoename, diarree, insomnia en oormatige sweet. Die veiligheid in swangerskap is ook nie bevestig nie en neonate kan pulmonêre hipertensie hê as gevolg van terapie vir die swanger ma5. Behandeling van obsessiewe kompulsiewe steurnis in kinders het ook inligting verskaf vir newe effekte in kinders wat hoër insidense van naarheid en braking insluit6.
Alhoewel hierdie studies goeie resultate toon is die resultate nie so betroubaar nie. Daar is meer studies nodig wat ewekansig is, in groot groepe plaasvind, van direkte assessering gebruik maak en volledig uitgevoer word om die gebruik van fluvoksamien in COVID-19 behandeling te rasionaliseer.