SU-MARI DU PREEZ

Default profile image
----------

Su-Mari du Preez #Blog 13

17 Jun 2021, 22:29 Publicly Viewable

Alkohol, wat doen dit regtig aan my liggaam?

Daar kom 'n tyd in mens se lewe wat mens wil eksperimenteer met verskillende middels soos onder andere alkohol, maar voor mens begin met die eksperimenteer is daar klomp faktore wat mens in ag moet neem en sekere inligting wat mens moet weet wat 'n impak kan he op die ervaring wat gepaard gaan met die gebruik van alkohol. 

Wanneer mens alkohol inneem gaan dit gepaard met 'n gevoel van welsyn, 'n "high", jy kan meer selfvertroue he en dit kan veroorsaak dat jy braaf is en dinge doen wat jy normaalweg te bang of skaam was om te doen. Jy kan ook baie energiek voel. Dit is 'n paar van die aangename effekte wat die gebruik van alkohol op mens kan he, maar ongelukkig kom die oormatige gebruik van alkohol ook met 'n paar onaangename effekte wat erger word met 'n groter hoeveelheid alkoholinname. Hierdie effekte sluit in stadige refleks en reaksie tyd, sedasie, vertraagde motoriese funksie met ander woorde die vermoe om te loop, regop te staan en te beweeg, versteurde spraak, naarheid, braking en in baie erge gevalle respiratoriese nood, koma en dood. En dan vergeet ons nie van die "hangover" gevoel die volgende dag nie. 

Nou kom die vraag hoeveel glasies is veilig om te gebruik? Elke drankie wat jy drink (afhangend van die sterkte en tipe drank) laat jou bloed alkoholvlakke (BAC) styg met 25mg/dL. Die verskillende newe-effekte van alkohol neem toe in ernstigheid met die toename in die bloedalkoholvlak wat toeneem met die hoeveelheid alkohol gebruik. By 'n BAC van tussen 200 - 300mg/dL kom braking en geheueverlies (blackout) voorkom. BAC bo 300mg/dL word as toksies beskou omrede jy in 'n koma kan gaan by BAC van tussen 300 - 400mg/dL en vlakke bo 400mg/dL word gekenmerk deur respiratoriese onderdrukking en dood.  Die huidige limiet volgens die wet van Suid-Afrika vir bestuurders is 0mg/dL, so wanneer jy moet bestuur is geen hoeveelheid alkohol veilig nie. 

Wanneer mens alkohol op 'n gereelde basis en in groot hoeveelhede gebruik gaan daar sekere dinge in die liggaam gebeur wat die effek van alkohol kan beinvloed omdat alkohol 'n hoogs verslawende middel is. Hoe weet mens wanneer jy besig is om 'n probleem te ontwikkel en wat om dan te doen?  Wanneer jy voel dat jy alkohol nodig het om te funksioneer en nie voel dat jy daarsonder kan klaarkom nie, is dit moontlik dat jy besig is om afhanklik van alkohol te word. Wanneer jy groter hoeveelhede alkohol kan inneem voordat dieselfde effekte verkry word as wat in die verlede ervaar is, is jy besig om toleransie teen alkohol op te bou. Afhanklikheid en toleransie is altwee baie gevaarlike konsepte omrede dit kan lei tot verslawing. Wanneer jy vermoed dat jy een van hierdie probleme ondervind, is dit nodig om hulp te kry. Praat met iemand wat jy vertrou daaroor en dat hulle jou help om mediese hulp te verkry. Daar is verskeie  geneesmiddels beskikbaar om te help met die afhanklikheid van alkohol, maar dit moet voorgeskryf word deur 'n dokter. Jou dokter en apteker gaan jou vordering monitor en indien nodig verwys na 'n instansie waar rehabilitasie gedoen kan word. 

Eksperimenteer is lekker, maar wees versigtig met die gebruik van alkohol en die effekte daarvan op jou lewe!

 

Brand, L.  2021.  Alkohole: Study Unit 3 [Powerpoint Presentation].  Unpublished lecture notes on eFundi, FKLG312.  Potchefstroom: NWU.

Brand, L.  2021.  Geneesmiddelafhanklikheid: Study Unit 12 [Powerpoint Presentation].  Unpublished lecture notes on eFundi, FKLG312.  Potchefstroom: NWU.

Katzung, B.G. 2018. Basic and Clinical Pharmacology. 14th ed. New-York: McGraw-Hill Education.