Rinitis (inflammasie van die neusslymvlies) en rinoree (loopneus) is gewoonlik die gevolg van allergieë, verkoue, chemiese of geneesmiddelskade, koue lug of fisiese skade.
Alfa 1 Agoniste bv. Fenielefrien, Efedrien en Oksimetasonien.
Anti-histamiene bv. Difenhidramien, Prometasien, Loratidien en Rupatidien.
Kortikosteroïede bv. Beklometasoon, Budesonied, Flutikasoon, Mometasoon en Siklesonied.
Mukolitika bv. Asetielsisteïen, Broomheksien, Karbosisteïen en Mesna.
Mastselstabiliseerders bv. Natriumchromoglikaat en Ketotifen.
Antibiotika bv. Mupirosien en Neomisien.
Diverse ander middels bv. Stoom, Soutoplossings en Vlugtige olies soos Mentol/Bloekom– olie.
Simpatomimetiese agente, spesifieke alfa 1 agoniste, veroorsaak vasokonstruksie van mukosale bloedvate en verlaag edeem van nasale mukosa.
Die a-agoniste word baie algemeen gebruik in die topikale doseervorme (neussproeie, druppels en jellies) en inhalasie van vlugtige verbindings om dekongestie van die neusslymvlies teweeg te bring. Die neussproeie versprei die geneesmiddel die beste en word verkies. Die druppels loop maklik deur tot in die farinks, vanwaar dit in die SVK beland en meer sistemiese newe-effekte kan veroorsaak, maar word nogtans soms verkies by kinders met kleiner neusgange.
Rhinitis medicamentosa (privinisme) en terugslagrinitis kan met oordosering met lokale preparate ontstaan. Privinisme is ’n toestand wat ontstaan na chroniese behandeling met dekongestante, waar die permanente vasokonstriksie met gebrekkige lokale bloedvoorsiening aanleiding gee tot skade van die neusslymvliese met permanente inflammasie en swelling, asook ’n afregulering van die a-adrenergiese reseptore op die bloedvate, sodat dit onresponsief raak teenoor die a-agoniste. Tagifilakse (l-noradrenalien-stooruitputting) kan deur die indirekwerkende middels ontlok word.Die imidasoliene gee, veral in babas en jong kinders, soms aanleiding tot sentrale onderdrukking wat tot ‘n koma kan lei.
Dit is verder belangrik om elke gebruiker van topikale preparate te waarsku teen die gevaar van privinisme met oorgebruik. Dit is hoofsaaklik vir korttermynbehandeling bedoel. Persone met privinisme behoort behandeling te staak en tydelik lokale kortikoïedterapie te ontvang. Soms ervaar persone wat die dekongestante chronies gebruik het dat hulle ’n toe neus ontwikkel wanneer hulle die terapie staak. Vir hierdie persone kan eers die een neusgang “gespeen” word, sodat daar darem nog een oop neusgang is. Wanneer die “gespeende” neusgang hertstel het, kan die tweede een ook “gepeen” word. Daar is ook orale preparate beskikbaar, maar hierdie doseervorm gee aanleiding tot meer newe-effekte en het 'n stadiger aanvang van werking.
Die eerste generasie antihistaminika is multipotente kompeterende antagoniste en blokkeer ook muskariniese reseptore. Antimuskariniese middels verminder die sekresies van die hoër en die laer lugweë, sodat dit dikwels by verkouepreparate ingesluit word om rinoree op te klaar. Hulle kan egter sedasie veroorsaak en dus konsentrasievermoë negatief beïnvloed.
Die tweede generasie antihistamiene blokkeer nie muskariniese reseptore nie en is bruikbaar by lang- of korttermynbehandeling van allergiese rhinitis (voordeel). Aangesien histamien geen rol by verkouerinitisnie speel nie, maar wel bradikinien, help hierdie middels nie om verkouerinitis op te klaar nie.
Kortikosteroïede is bruikbaar vir kroniese asma, allergiese rhinitis, neuspoliepe, inflammatoriese rhinitis, en omkering van rhinitis medicamentosa. Dit word topikaal toegedien deur neussproeie.
Anti-allergiese middels is bruikbaar vir profilakse vir antigeen asma en oefenings- geïnduseerde asma. Dit word ook as ‘n neussproei toegedien.
Mesna is bruikbaar as slymverdunners by taai nasale mucus. Dit word ook as ‘n neussproei toegedien.
Normale soutoplossing (salien) is as neusdruppel baie veilig en effektief. Dit bevogtig die droë, geïnflammeerde neusslymvliese soos tydens verkoue, droë weer, allergieë (hooikoors), neusbloeding, oorgebruik van dekongestante en ander irritasies.