Content begins here
Overview
Welkom by ALDA 111
Hierdie eFundi-webblad is spesiaal vir jou, ons nuwe NWU-student, ontwikkel. Die volledige ALDA 111-module ('n module in die eerste semester) sal via hierdie webblad aangebied word. Dit is dus baie belangrik dat jy van die begin af sal verstaan hoe om deur die inligting en die webblad te navigeer en te begryp wat van jou verwag sal word; selfs nog voor ons met enige inhoudelike werk begin het.
Ons beveel aan dat jy eers met aandag deur die Begin hier-afdeling van die module op eFundi werk. Jy kan dit aan die linkerkant van die skerm (as jy 'n rekenaar gebruik), of onder die "Tools"-kieslysie links (as jy 'n slimfoon of tablet gebruik) vind. In hierdie afdeling sal jy nuttige inligting en instruksies kry, wat jou sal help om die webblad so optimaal moontlik te gebruik. Daar is ook 'n video ingevoeg wat jou van hulp kan wees indien jy probleme ondervind. Laai gerus hierdie video vir jou af. Afgesien hiervan, sal jy ook via hierdie afdeling toegang tot die volgende verkry:
Inligting rakende
- voorgeskrewe materiaal (o.a. geïntegreerde werkboekinhoud, bykomende leesmateriaal en die NWU-verwysingsgids),
- werkskedules (o.a. die assesseringsplan en die semesterbeplanning wat datums insluit), en
- algemene reëlings ten opsigte van kommunikasie.
Moet asseblief nie met die eerste les vir hierdie module begin voordat jy nie deur die Begin hier-afdeling gewerk het, al die nodige materiaal bymekaar gemaak het en verstaan hoe die webwerf werk nie. Onthou ook dat jy asseblief onmiddellik jou dosent moet vra wanneer jy vasbrand, onseker is oor enige van die werk, wat gedoen moet word, of as jy met enige van die inhoud sukkel.
Ons sien uit om hierdie semester saam met jou mee te maak.
Vriendelike groete
Jou ALDA 111-dosente