Content begins here
KARINA VAN ZYL
FINALE BLOG
10 Nov 2021, 22:09
Die tyd het aangebreek. Ons is amper klaar met die semester. My tweede jaar was regtig ‘n besige jaar. Hopelik gaan 3de jaar bietjie rustiger wees. Om te studeer en te werk is nie maklik nie. Dit het ek die harde manier geleer.
As ek myself moet vergelyk met nou en voor ek hierdie module gehad het, kan ek ‘n definitiewe verskil agterkom. My perspektiewe oor verskillende kulture en gelowe het gegroei. Die manier wat ek klas eendag wil gee het in ‘n positiewe manier verander. My oë het oop gegaan vir die foute wat ek maak en vir al die geleenthede wat daar is.
Soos ek reeds gesê het, ek is mal oor musiek, so my verwagtinge vir hierdie module was uiters hoog. My verwagtinge was werklikwaar oortref. Die hoeveelheid kennis en vaardighede wat ek in hierdie module opgedoen het, sal my lei en altyd by bly. Ek hou nou nog meer van musiek, nou dat ek die waarde daarvan in opvoeding verstaan.
Die deurlopende individuele refleksies het my baie gehelp om te weer wat ek verstaan en hoe ek dit interpreteer. Ek kon sien watter dele was vir my belangrik en waaraan moet ek verbeter. Dit het my gehelp verder dink oor sake.
Dit was soms moeilik om tyd te mry om deur al die inligting te lees en te werk, maar dit was die moeite werd. Dit was ook vir my lekker om oor ander se opinies en perspektiewe te lees. Dit het my sieninge oor elke leereenheid verbreed. Ander mense dink anders aan sekere goed en dit was goed vir my om meer oor ander se opinies oor dinge te leer.
Een ding wat ek dalk sal wou verander is dalk om Efundi se blog platform bietjie te update. Dit is nie baie gebruikersvriendelik nie. Dit wat jy op hierdie blog platform kan doen en share is so bietjie beperk. Ek sou voorstel dat ons verplig was om ons eie Wix te maak en ‘n tutorial daarin.
Hierdie vak was baie goed georganiseerd en deurdink. Die dosent het baie moeite gedoen. Ek sou dalk graag wou hê dat die groepsbesprekings ook tel, omdat dit baie tyd opgeneem het om te voltooi. Verder was die inligting meer as voldoende in my opinie. Ek weet beslis meer as wat ek geweet het. Dankie daarvoor.
Nog ‘n voorstel is om dalk meer klasse te hou waar praktiese voorbeelde soos hoe om musiek lesse in ‘n fisiese klas aan te bied sou werk, veral omdat ons nie proef nie, is dit so bietjie moeilik vir my om dit in te sien.
Ek sou dalk ook meer wou leer oor die waarde van musiek en die kunste vir kinders met spesiale behoeftes en die voordele daarvan, asook hoe mens dit as hulpbron kan gebruik om beter te kommunikeer.
Die module was een van die insiggewende en lekker modules die semester. Dankie dat u ons so mooi gehelp en lei het. Die ekstra moeite en tyd wat u ingesit het word raakgesien en waardeer!
Karina van Kathu, oor en uit! ♥️
LEEREENHEID 5: Lesbeplanning
10 Nov 2021, 21:52
Die week was aansienlik beter as die vorige weke. Daar was meer positiewe dinge wat in my lewe gebeur het. Ons het getrek na ‘n ander huis toe. Akademies gewys sien ek ook ‘n lig aan die einde van die tonnel.
Leereenheid 5 het alles gegaan oor lesbeplanning. Ek het uitgesien na die leereenheid omdat ek nog bietjie onseker voel oor hoe om ‘n goeie les te beplan, veral met musiek integrasie. Ek het nog nooit in ‘n skool gewerk en my eie les aangebied nie, so ek het geweet die leereenheid sal my meer leiding gee.
Vraag 1:
Meeste mense heg nie baie waarde aan musiek en die kunste nie. Hulle sien dit as ‘n bysaak. Party mense sal dit self beskryf as te maklik of onnodig. Hierdie mense beskik nie oor die nodige kennis om sulke afleidings te maak nie. Hulle is oningelig en ongelukkig lei dit daartoe dat die kunste minder aandag geniet as byvoorbeeld wiskunde. Dit is baie nadelig, veral vir die kinders wat ‘n passie het vir die kunste en talente daarin kan ontwikkel. Dit verdien dieselfde hoeveelheid tyd, geld en moeite as die ander vakke. Dit moet gesien word as ‘n “tool” wat benut kan word om ander inligting met kinders in ‘n speelse manier te deel, veral in die Grondslagfase.
Vraag 2:
Ek sal die HOD nooi om ‘n gewone vervelige klas by te woon om die kinders se belangstelling eerstehands te sien. Daarna sal ek terugvoer kry van daardie klas. Ek sal dan die HOD weer nooi na ‘n klas toe waar ek musiek en die kunste in my lesse intergreer en dan die terugvoer hoor. Hopelik sal dit dan duidelik wees dat musiek alles net beter, lekkerder en meer verstaanbaar kan maak. Ongelukkig moet hulle dit met hulle eie oë sien om die voordele daarvan te glo. Dan kan hulle self besluit en evalueer hoe belangrik die kunste en musiek in die Grondslagfase is.
My lesse sal eendag gevul wees met al die kunsvorme wat daar is, om die holistiese ontwikkeling van kinders aan te help. Ek kan nie wag nie.
Groete
Karina van Kathu♥️
LEEREENHEID 4: Integrasie van musiek
10 Nov 2021, 21:38
Wat ‘n Wilde Week!! Die week het daar baie dinge verkeerd gegaan. My oom is oorlede en my ouma is baie siek in die ICU. Die jaar raak nou bietjie lank en ek voel oorweldig. Die studies moet wel aangaan, darem geniet ek hierdie vak meer as Wiskunde.
Hierdie leereenheid was propvol waardevolle inligting. Ek voel die integrasie van musiek in enige vak is uiters noodsaaklik om lesse meer toeganklik, lekker en interessant te maak. Dit kan soveel voordele inhou as onderwysers dit korrek implementeer.
Vraag 1:
Alhoewel sommige mense sê die intergrasie is onnodig, glo ek steeds dit is een van die beste maniere om kinders te leer. Kinders kan daarmee vereenselwig en vervelige inligting kan genotvol raak. Jong leerders is nog nuuskierig en wil graag leer. Musiek en kuns kan hulle belangstelling prikkel en vir hulle ‘n kans gee om hul denke te verbeed en in hul verbeeldings rond te dwaal. Dit skep ‘n ander perspektief op vakke soos Wiskunde, wat meeste kinders ‘n negatiewe siening oor het. Dit kan inligting lekker maak. Leerders sal uitsien om klasse by te woon as hulle kan leer deur sing en dans.
Vraag 2:
Die interessantste deel van leereenheid 4 was om te leer oor die waarde wat musiek kan bring tot ‘n les. Dit verbind visualisering, lees, begrip, kontekstualisering van wiskunde, die lys gaan aan. Die kunste kan leerders help om beter te fokus en verskillende leerstyle aan te leer of toe te pas. Dit laat leerders toe om verskillende vakke op verskeie maniere te verken. Dit is van onskatbare waarde vir onderwysers en leerders.
Vraag 3:
Die grootste uitdaging vir my is om die onderskeid te tref tussen die verskillende maniere om musiek toe te pas. Daardie gedeelte is steeds nog bietjie onduidelik vir my. Ek dink met meer voorbeeld en selfs ervaring in die gebied sal ek dit onder die knie kan kry.
Daarsy, nog ‘n leereenheid verby. Ons vorder goed. Tot die volgende een, lekker week!
Karina van Kathu ♥️
LEEREENHEID 3: Musiekspel
10 Nov 2021, 21:14
Ek kan nie glo die dae gaan so gou verby nie. As ons weer sien is dit Kersfees. Die afgelope paar weke was baie rof. Die akademie is baie, maar ons probeer ons beste om by te hou.
Leereenheid 3 was baie interessant. Ek het baie nuwe kennis opgedoen en glo die leereenheid was baie waardevol. Wie sou nou ooit kon raai dat speel so belangrik is. Die verskillende tipes speel en die voordele daarvan was lekker om oor te leer. Ek dink regtig onderwysers moet meer op vryespel fokus om kinders se verbeelding en denke vrye teëls te gee. Die feit dat daar soveel maniere van speel en speletjies bestaan, maar my omtrent opgewonde om ‘n onderwyser te word en die inligting te implementeer in my klas eendag.
Na ek die scenarios bestudeer het, kon ek die vrae goed beantwoord:
Vraag 1:
Die seun was baie ongemaklik omdat hy niks verstaan nie. Leerders wat nie verstaan nie, voel onbevoeg of dom en dit kan hul selfbeeld afkraak. As leerders nie verstaan wat gesê word of verduidelik word nie, stel hulle nie belang in die inligting nie. Hulle voel ook gevolglik skaam omdat hulle nie die inhoud wat behandel word ken nie. Die meisie voel ook nie dat sy wil dans voor die seuns nie, danksy haar geloof en oortuigings. Ons moet besef dat mens berskillende mense met verskillende kulture, gelowe, rasse ens. kry. Ons moet almal respekteer en elkeen ‘n plekkie in die son gun.
Vraag 2:
Ek dink dis belangrik dat klasmaats mekaar moet ken. Ons kan dalk ‘n mondeling of iets doen aan die begin van die jaar om die leerders aan mekaar bekend te stel. Elke leerder moet dan meer van hom / haarself vertel. Verskillende speletjies, liedjies en danse vanuit verskillende kulture moet doelbewus gebruik en verduidelik word aan die kinders. Leerders moet ook gemaklik voel of deel te neem en ek as onderwyser kan niemand dwing nie. Om te vra is beter as om aan te neem. Dit is belangrik om aan alternatiewe maniere te dink om lesse aan te bied sodat almal ingesluit voel.
Vraag 3:
Die onderwyser en leerders moet bewus wees van elkeen se agtergrond en kultuur. Hoe meer mens weet en vra mag vra oor iets, hoe meer respek het mens daarvoor. Ons kan elke week ‘n ander tipe kultuur of geloof in die klas bespreek. Kinders moet die geleentheid kry om vrae te vra. Lesse moet ook goed deurdink word en onderwysers moet seker maak dit kom niemand te na nie, of benadeel iemand nie. Die woord diversiteit moet jou lei as jy keuses maak vir aktiwiteite en inhoud wat geleer word. Dit is die onderwyser se verantwoordelikheid om toe te sien dat kinders veilig voel om hulself en kultuur of geloof uit te leef. Dit is hulle reg.
Tot volgende keer,
Karina van Kathu♥️
LEERERNHEID 2: Luister en reageer tot musiek.
8 Sep 2021, 21:40
Deel 1:
Hi almal. Die afgelope twee weke was erg. Ek het positief getoets vir COVID-19 en dit was aaklig. Ek is so bietjie agter met my studies, maar ek glo ek sal inhaal. Ek geniet hierdie module wel die meeste. Dit laat my toe om bietjie te reflekteer en net na te dink oor my studies.
Deel 2:
Vir my was die verskillende benaderinge tot musiek onderrig baie insiggewend. Ek verstaan nou meer hoe om dit te benader in praktyk.l en dat daar verskillende opsies is, nie net een regte manier nie.
Musiek-integrasie kan 'n lekker en positiewe leeromgewing skep. Musiek kan enige leerervaring verbeter deur dit interessant te maak. Musiek bied die geleentheid om inhoud in verskillende maniere uit te druk en leerders kan inhoud verken.
Vir leerders versterk musiek nie net emosionele en kognitiewe ontwikkeling nie, maar bied dit ook 'n nuwe uitlaatklep en 'n nuwe manier van leer deur te luister en klanke te maak. Die integrasie daarvan bied 'n platform waardeur onderwysers die kreatiwiteit en menslikheid van 'n kind kan benut terwyl hulle inhoudsmateriaal leer van verskillende vakke.
Deel 3:
- Ek sal definitief inheemse Afrika musiek wil integreer in my lesse. Ek hou van die ritme wat dit het en daar is baie maniere wat ek die verskillende instrumente gebonde aan die tipe musiek kan gebruik. Mens kan ook lekker daarop beweeg en dit het ‘n repiterende aard. Ek dink mens kan dit op unieke maniere gebruik. Dit kan ook diversiteit bevorder en selfvertroue gee aan alle leerders wat se musiek nie altyd verteenwoordig of respekteer word nie. Ek sal net baie navorsing moet doen voor ek dit aanpak.
- Ek dink die inhoud is redelik inklusief omdat daar verskillende musiek vir verskillende mense en op verskillende maniere verduidelik word. Daar word ook beide Westerse en Afrika instrumente en liedjies voorgestel. Die grondslagfase moet inklusief wees, sodat alle leerders gemaklik en tuis voel in die klas. Leerders het verskillende behoeftes en verskillende agtergronde sowel as kulture. Ons as onderwysers moet bewus wees daarvan en elkeen se uniekheid vier.
- Ek sal verskillende genres en kunstenaars se musiek kies, sodat almal daarmee kan vereenselwig. Ek sal ook probeer om leerders betrokke te kry, as ek sukkel om iets uit te spreek of te verstaan. Ons kan by mekaar leer. Hulle kan ook voorstelle maak vir liedjies, bewegings of instrumente vir lesse. Ek dink ons kan selfs internasionale musiek ook in lesse inkorporeer om leerders se kennis daaroor te verbreed en nog meer interessant te maak.
LEEREENHEID 1: Die waarde van musiek vir die holistiese ontwikkeling van grondslagfase leerders
16 Aug 2021, 18:25
Deel 1:
Op hierdie stadium is ek nog bietjie oorweldig met my studies en my werksure. Ek sukkel om by alles uit te kom. Laas week was baie besig en rof. Ek kon darem die naweek rustig sit en bietjie beplan, sodat ek niks mis nie en dat ek op datum kan bly van my studies. Ek het darem ook baie ondersteuning van my kerel af, so ek hoef darem nie in die aand kos te maak nie. Dit help dat ek bietjie meer voor die boeke kan kom.
Deel 2:
Ek het sover verskillende goed geleer rakende musiek in die grondslagfase. Ek het dit veral interessant gevind om oor die verskillende ouderdomme en mylpale wat ten opsigte van musiek bereik kan word, te leer. Die ontwikkelingsfases is baie belangrik om te weet om doeltreffende leer te verseker. Meeste van die teoriee het ek al oor geleer in Sielkunde en van die ander vakke wat ons al gehad het, so die inhoud was darem nie heeltemal onbekend nie. Dit was wel lekker om dit te leer ten opsigte van musiek.
Deel 3:
1. Ek voel positief wanneer dit kom om musiek te inkorporeer in my lesse. Musiek is 'n groot deel van my lewe en iets wat ek regtig geniet. Ek kan sing en dans en so bietjie kitaar speel. Op skool het ek beter geleer met musiek aan en ek het selfs liedjies of bewegings opgemaak om moeilike konsepte te leer. So het ek dit beter onthou, daarom kan ek die waarde van musiek vir klein kinders beslis insien. As dit vir my kan help, dan sal dit vir hulle ook kan help.
2. Ek verkies om musiek te integreer met ander vakke. Musiek kan soveel vir leerders bied. Dit kan help met taal, lusitervaardighede en kommunikasie. Leerders kan hulself geniet en hulself uitleef deur musiek. Lesse kan baie lekkerder wees as musiek in gebring word. Alhoewel fisiese ontwikkeling net so belangrik is, kan musiek meer help met die emosionele en sosiale ontwikkeling van leerders.
Die leereenheid was propvol inligting, maar ek het dit baie inssigewend gevind. Ek kan nie wag om meer te leer oor musiek en al die voordele wat dit bied nie.
INLEIDING: KARINA VAN KURUMAN
13 Aug 2021, 21:59
Goeienaand! Ek het uiteindelik die blog knoppie gevind. So hier gaan ons nou…
Ek is Karina van Zyl. ‘n Werkende student soos baie van my mede-afstandsleer kollegas hulself ook noem. Ek het groot geword op ‘n klein dorp in die Noord-Kaap genaamd Kuruman. Glo my die alliterasie gaan my nie verby nie.
Na matriek het ek in my broer en suster se voetspore gevolg en begin studeer by die NWU Potchefstroom-kampus. ‘n Paar jare en grade later bevind ek my in nog ‘n klein dorpie, ‘n klipgooi weg van Kuruman, genaamd Kathu.
Om eerlik te wees het ek nooit gedink ek sal ooit terug kom na die omgewing toe nie, maar hey, hier is ek nou. Ek, my langtermyn kêrel van ses jaar (hopelik verloofde in die nabye toekoms) en ons twee katte, Heidi en Dexter in ‘n myndorp wat rooigrond om elke hoek en draai het. Ek is tans besig om by ‘n nasorg te werk en hard te leer.
Ek moet sê ek geniet die nasorg baie. Die kinders fassineer my. Hulle interessante stories, vermoë om alles in ‘n leergeleentheid te omskep en net die lewe te geniet is wat my aan die gang hou. Daar is nooit ‘n vervelige dag nie. My gunsteling deel is om te sien hoe die kinders groei. Van ‘n graad 1 wat nie “a” van “b” kan onderskei nie, tot ‘n graad 1 wat skielik blad na blad in hul leesboekies kan lees. Dit gee my moed. Ek het besluit om Grondslagfase te studeer, omdat ek deel wil wees van die proses om die belangrikste ontwikkelingsjare van kinders te vorm. Ek wil verstaan hoe kinders dink en hoe hulle beter leer.
My groot droom is om eendag ‘n nie-winsgewende organisasie te skep vir die minderbevoorregte skole in ons land. Ek wil spesifiek daarna kyk om onderwysers wat by kleuterskole werk op te lei, sodat hulle beter opvoeding aan die kinders in die omgewing kan voorsien.
Ek sien beslis uit na hierdie module, omdat musiek nog altyd ‘n groot deel van my lewe is. Ons gesin is baie musikaal en ek waardeer die waarde wat musiek tot my lewe voeg. Ek kan nie wag om die kleinspan daardie selfde waarde van musiek te wys nie en boonop hul daardeur te leer nie.
Tot my volgende plasing.
Soet wees!
Karina van Kuruman / Kathu